Programme note
Telkens wanneer ek 'n programnota vir 'n nuwe werk skryf, val dit my op hoe moeilik dit is om die betekenis van 'n klankskepping in woorde uit te druk.
Die skeppingsproses self bly fassinerend en die misterie daarvan word pragtig in NP van Wyk Louw se gedig Ars Poetica verwoord:
Uit die gevormde literatuur is nooit weer poësie te maak nie, uit die ongevormde wél: heuning uit blomsap - om te illustreer - en uit heuning self, glo nog; maar nie meer uit die seshoek-sel.
Miskien is 'n musiekwerk niks anders as 'n 'dagboek' oor die wel en weë van musikale idees en persona.
Vir my is daar 'n verband tussen Speculum Musicae (Musiekweerspieëling) en 'n vroeëre werk soos Ars Poetica (1978) asook orkeswerke soos Anagram (1983), Ikonografie (1983), Kronieke (1987) en do-re-mi-fabriek (1992) byvoorbeeld:
'n melodiese fragment (motief) dien as uitgangspunt wat dan horisontaal aaneengestring word - as toonketting vorm dit melodieë met hul eie liriese en ritmiese karakter; dieselfde melodiese fragment word in tyd saamgepers en gee vertikaal gestalte aan akkoordstrukture en teksture; voorts word die melodiese fragment in verskeie gedaantes as borrelende agtergrond aangebied wat hardnekkig voortspin en waarvan die energie uiteindelik uitwoed. Kortom, verskillende dimensies van dieselfde gegewe.
Speculum Musicae bestaan uit twee dele: die eerste deel is langsaam en beklemtoon die liriese karakter van die werk, terwyl die tweede deel vinnig en opgeruimd is, en loop uit op 'n wals. Reg aan die einde word die begin van die werk in herinnering geroep. Die werk is gekomponeer in opdrag van Ernest Beermann en João dos Santos
Review
Van Rensburg, Mary-Ann. 12 May 2003, DIE BRUGER