Ars Poetica

Programme note

Die avontuur om te skep en die soek na nuwe insigte, soms “op die temas van die dwase, en van die nie-dwaas heiliges” en vry van die “slymerigheid van ons histories- en geweefde denke....” soos Van Wyk Louw dit so treffend stel in sy “Ars Poetica”, is kentekenend van ‘n probleemsituasie waarmee baie komponiste vandag worstel – die dilemma om “in woorde, wat maar klank en teken is”, nuwe ervarings te bedink sonder om “groot te doen of te misdoen in die skoene van die grotes”.  In die lig hiervan is dit besonder betekenisvol dat Hans Roosenschoon se werk juis die naam en teksinhoud van NP van Wyk Louw se gedig as grondslag het, ‘n gedig waarin die komponis “die versinnebeelding van musiek” sien.

Hans Roosenschoon se “Ars Poetica”, gekomponeer in opdrag van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenings wat in 1979 sy vyftigste bestaansjaar gevier het, is ‘n werk vir volle simfonieorkes, twee kore en ‘n bariton-solis.  Dit bestaan uit ‘n inleiding en vier afsonderlike dele wat elk op ‘n vers van die Van Wyk Louw-gedig gebaseer is.  Die musikale kern van die komposisie is ‘n motief van agt note wat reg aan die begin, tydens die inleiding, bekendgestel word wanneer albei kore die titel van die werk intoneer.  In ‘n sekere sin verwys die metode van hierdie bekendtelling na een van die opvallende struktuurkenmerke van die komposisie nl. die geleidelike groei tot ‘n digte tekstuur vanuit enkele afsonderlike klanke.  Hierdie motief ontwikkel mettertyd in allerlei moontlike gedaantes.  Benewens hierdie motief maak die komponis ook van bepaalde herkeningsbakens gebruik, ‘n soort “tonaliteit” waaraan die luisteraar hom oriënteer.  Een daarvan is die snel herhaling van ses identiese akkoorde.  ‘n Ander “baken” neem die vorm aan van ‘n dalende tendens in sekere strukture.  Nog ‘n fokuspunt is die dinamiese uitswel van ‘n komplekse akkoord wat in ‘n lae register voorkom.

Soos die werk ontvou ontstaan daar ‘n spel van lig en donker, ‘n kaleidoskopiese kleurwisseling en voortdurende klankmetamorfose wat wesentlik ooreenstem met die ontplooiing van ‘n konvensionele werk.  Die melodiese, harmoniese en kontrapuntale intensiteit is egter veel hewiger, deels omrede die naasmekaarstelling van klankmassas, die intensifisering van die harmonie asook die opeenstapeling van klanktrosse.  Kontras word verkry deur die manipulasie van die klanktrosse waarvan die struktuur en/of tekstuur verskil of die naasmekaarstelling van klanktrosse en enkelnote.  Soms weer, ontstaan daar ‘n geleidelike oorgang, ‘n modulasie van een klanktros na ‘n ander asook die geleidelike uitblom van ‘n enkelnoot na ‘n klanktros en omgekeerd.

Een van die opvallendste kenmerke van die eerste deel is dat die sangstemme soms afwyk van die gewone manier van stemproduksie deur die woorde te praat, te fluister of bloot sekere geluide te produseer.  Die tweede deel is ‘n drieledige passacaglia waarin die bariton as solis optree.  In die derde deel waarin albei kore die teks deurgaans resiteer, probeer die komponis om die inhoud so realisties moontlik te verklank, in ‘n sekere sin soos by program- of verhalende musiek.  Die werk sluit af met ‘n groot dubbelfuga tussen die koor en die orkes wat onderbreek word met ‘n passasie wat aan die inleiding herinner.  Materiaal uit die eerste vers word weer gehoor, maar nou gelyktydig met materiaal van die vierde deel.  Die drie “herkenningsbakens” waarna vroeër verwys is, maak vervolgens ‘n vlugtige herverskyning.  Dit kulmineer in die ses vinnige fortissimo-akkoorde voordat ‘n sagte en statiese strykersklank, wat geleidelik afneem in intensiteit, al is wat oorbly.  Die werk eindig met ‘n luide, aangehoue akkoord vir koor en orkes.

(Danie Fourie)

 Review

This is Avant Garde at its best, particularly due to the solid structure and exciting line of thought. Impressive cosmic effects are achieved, both with the choir and the orchestra.

(Du Toit, Daan. 10 October 1979, Die Vaderland)

Together with 'Ars Poetica' (1979) these works form a significant turning point in the composer's approach to his material. A preference for sonoristic effects evolves where the juxtaposition, but also the continuous transformation of textures become part of a sound-game. Other works where a similar approach to sound colour is at the foreground, are 'Mosaiek' (1979), 'Psalm 23' (1979), 'Ikonografie' (1983), and 'Anagram' (1983).

At this early age Roosenschoon's music form part of the South African standard repertoire.  Without him our heritage would now already be poorer.

(Jacobs, Sara J. 1987. DIE KOMPOSISIES VAN HANS ROOSENSCHOON (1952- )

M.Mus thesis, UNISA)

 

Ahlers, E. 11 October 1979, TRANSVALER

Back